KWAZULU-NATAL. – Die liggaam van ‘n baba (5 mnde.) is deur die polisie in ‘n vlak graf naby die ouerhuis in ‘n vlak graf ontdek.
Kapt. Alex Thomson sê die baba se ouers was na bewering onder die invloed van drank toe die baba ‘n week vantevore begrawe is.
Na bewering het die ma wakker geword en is deur die pa ingelig die baba is dood. Hy het haar glo oortuig om die baba naby die rivier in die Mpongompongweni-area te begrawe. Hulle het glo gesukkel sonder die regte gereedskap en is weer met die baba se liggaam terug huis toe. Die pa het toe ‘n vriend vir hulp gevra en die baba is naby die puttoilet begrawe. Die ma is glo tot stilswye gedreig. Sy het egter hulp van familie gevra en die voorval aan KwaDukuza-polisie gerapporteer.
Speurders en Durban en Umhlali se honde-eenhede en soek-en-reddingspanne het Saterdag die baba se liggaam in die vlak graf gevind.
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen en KwaDukuza-speurders ondersoek die saak om geregtigheid vir die baba te bring. ‘n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van die baba se dood bepaal.
Genl.maj. Anthony Gopaul, die distrikskommissaris van Ilembe, het sy skok oor die insident uitgespreek. Hy verseker die publiek dat die skuldiges vir die misdaad verantwoordelik gehou sal word.
Kapt. Thomson het aan Nuusflits bevestig ‘n man (29) is vir die misdaad in hegtenis geneem.





