LIMPOPO. – ‘n Babadogter van Maphophe wat nog nie eens twee jaar oud is nie, is verkrag terwyl haar ma glo geslaap het. Toe die ma Woensdagoggend wakker word, het sy opgemerk dat haar baba nie kon staan nie en sy het vermoed iets kan moontlik fout wees.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, het die ma gesien haar baba se linkerknie is geswel. Sy het dadelik haar babadogter na die naaste hospitaal geneem. Die dokters het bevestig dat die baba verkrag is. ‘n Saak van verkragting is by die Saselamani-polisiekantoor geopen, waarna dit vir ondersoek aan die Giyani-eenheid vir gesinsbeskerming, kindermishandeling en seksuele misdrywe toegeken is. ‘n Verdagte is nog nie geïdentifiseer nie.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om vir konst. Collen Netile by 072 735 3572 te bel.





