Brekende Nuus
Weer

Baie sterk El Niño kan SA se somer beïnvloed

Foto: Ter illustrasie

El Niño is stewig gevestig en sal na verwagting in die komende maande versterk, waarsku die wêreld meteorologiese organisasie (WMO). Dit raak temperature en reënvalpatrone regoor die wêreld.

Vir Suid-Afrika kan die ontwikkeling belangrik wees omdat El Niño tipies die weerpatrone oor die suidelike deel van Afrika beïnvloed. Dit kan veral belangrik wees vir die land se somerreënvalgebiede, landbou, waterbronne en veldbrandrisiko. Die presiese uitwerking sal egter van streek tot streek verskil met ‘n warmer en droër somerseisoen. Die WMO beklemtoon dat El Niño ’n natuurlike klimaatverskynsel is en nie deur klimaatsverandering veroorsaak word nie.

Clare Nullis van die WMO het Donderdag in ‘n verklaring gesê die verskynsel word aangedryf deur buitengewoon warm seetoestande in die tropiese Stille Oseaan. Dit kan die tipiese uitwerking versterk, verswak of verander. Celeste Saulo, WMO-sekretaris-generaal, het gewaarsku dat die gevolge van droogtes en vloede reeds ontwrigting en skade veroorsaak en dat dié impakte na verwagting kan toeneem namate El Niño versterk.

Die WMO beklemtoon dat die sterkte van El Niño alleen nie bepaal hoe ernstig die gevolge in ’n spesifieke land sal wees nie. Die Niño 3.4-indeks, wat see-oppervlaktemperature in die sentraal-oostelike ekwatoriale Stille Oseaan meet, het van gemiddeld 1,5 °C bo normaal gedurende Mei tot Julie tot 2 °C bo normaal in Julie gestyg. Weeklikse waardes het daarna tussen laat Julie en middel Augustus verder toegeneem tot tussen ongeveer 2,2 °C en 2,6 °C bo normaal. Vir September tot November 2026 verwag die WMO ’n groter waarskynlikheid van bogemiddelde temperature oor bykans alle landgebiede wêreldwyd. Die WMO verwag dat El Niño teen die einde van vanjaar ’n baie sterk intensiteit kan bereik, met ‘n impak op die klimaat wat tot in 2027 kan voortduur.

Volgens die WMO vereis die huidige El Niño buitengewone voorbereiding en het hulle ’n groot mobilisering saam met nasionale weer- en hidrologiese dienste begin om vroeë waarskuwings en paraatheid te versterk.

Bron: Wêreld Meteorologiese Organisasie

El Niño, El Niño 2026, Suid-Afrika, SAWS, WMO, weer, klimaat, somerreënval, droogte, uiterste hitte, vloede, klimaatvoorspelling, weerwaarskuwing, Stille Oseaan, El Niño Suid-Afrika