Bayanda Walaza: Curro Hazeldean se Olimpiese ster

Lees ook :

Foto: Minister Siviwe Gwarube & Bayanda Walaza (Charmaine Botes Visser)

PRETORIA. – Siviwe Gwarube, nasionale minister van basiese onderwys, het Hoërskool Curro Hazeldean in Pretoria Donderdag 15 Augustus besoek om Bayanda Walaza, Suid-Afrika se nuutste naelloopsensasie, persoonlik te vereer. Die gr. 12-leerder was deel van die SA-span wat ‘n silwermedalje in die 4x100m-aflos by die Parys Olimpiese Spele gewen het.

Die geleentheid het begin met Skriflesing en gebed gelei deur pastoor Sibu Mlotshwa. Pierre le Roux, uitvoerende hoof van Curro Hazeldean, het die minister en gaste hartlik verwelkom. Dit is opgevolg deur toesprake deur Wayne van Zyl, hoof van die skool, en Cobus Loubser, uitvoerende hoof van Curro Holdings. Die hoogtepunt van die geleentheid was die medalje-oorhandiging, waartydens Gwarube die silwermedalje aan Bayanda oorhandig het. Die geleentheid is afgesluit met die sing van die nasionale volkslied – ’n gepaste huldeblyk aan die jong atleet se prestasie.

“Bayanda is die heel eerste Olimpiese atleet van Curro en ons is geweldig trots op sy prestasie,” het Loubser gesê. “Hy beliggaam die waardes van deursettingsvermoë, uitnemendheid en nederigheid wat ons by ons leerders probeer kweek. Minister Gwarube se besoek beklemtoon die belangrikheid van Bayanda se prestasies en Curro is geëerd om hom te ondersteun terwyl hy voortgaan om ander te inspireer, beide op en van die baan af.”

Na die viering skakel Bayanda nou oor na sy voorbereidings vir sy voorlopige eksamen, wat vandag begin. Ondanks die akademiese uitdagings wat voorlê, sal die 18-jarige, wat vroeër vanjaar die titel van die vinnigste tiener ter wêreld verwerf het met ’n 10.13 sekonde in die 100m-naelloop, later die maand Suid-Afrika by die Wêreld U20 Baan-en-veldkampioenskappe in Peru verteenwoordig. Curro wens hom alle sukses toe met sy toekomsplanne.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App