VRYSTAAT. – ‘n Bejaarde egpaar, die boer (74) en sy vrou (78), asook ‘n werknemer (48) wat saam met hulle in ‘n huis op die plaas Heine tussen Frankfort en Heilbron bly, is vanoggend omstreeks 03:15 aangeval en beroof.
Volgens kapt. Loraine Earle het die egpaar van die teenwoordigheid van ‘n groep verdagtes in hulle slaapkamer wakker geword. Die egpaar en hulle werknemer is oorval en vasgebind. Die huis is daarna geplunder.
Earle sê die polisie is op soek na ses verdagtes wat met huishoudelike items, ‘n haelgeweer en twee handwapens in die boer se Ford Ranger-bakkie, wat verlate gevind was, gevlug het. Die bakkie is in ‘n veld gevind, maar die wapens is steeds weg.
Die polisie is op die toneel waar alle moontlike leidrade opgevolg word. Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Sake van huisroof, diefstal van vuurwapens en diefstal van ‘n motorvoertuig word ondersoek. Enigiemand met inligting kan kapt. Judith Swanepoel op 082 466 7746 bel.





