LIMPOPO. – ’n Bejaarde vrou is glo op 29 Junie 2024 uit meer as R60 000 by die Hubyeni-winkelsentrum in Elim bedrieg. Die polisie het foto’s van die beweerde bedriegster vrygestel waarna hulle soek.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die slagoffer het probeer om geld by ‘n OTM te trek, toe die verdagte glo aangebied het om haar te help. Die transaksie is voltooi, waarna die slagoffer haar bankkaart en kontant in haar handsak geplaas het. Toe die slagoffer, wat nie kan lees nie, later by die huis kom, het familielede agtergekom dat groot bedrae geld reeds uit haar rekening onttrek is. Daar is ook vasgestel haar bankkaart is met iemand anders s’n omgeruil.
’n Ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte die kaart gebruik het om aankope by verskeie winkels in die kompleks en in Makhado te doen. Die saak is by die Waterval-polisiekantoor aangemeld en is aanvanklik weens ‘n gebrek aan leidrade gesluit. Nadat nuwe bewyse na vore gekom het, is die saak onlangs heropen.
‘n Bedrogsaak word ondersoek en die polisie vra die vrou wat deur veiligheidskameras by die winkelsentrum afgeneem is om haar by die polisie aan te meld. Lt.genl. Thmbi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris, waarsku die publiek om versigtig te wees wanneer OTM’e gebruik of kontant hanteer word. “Misdadigers gebruik dikwels mense se goedhartigheid en afleiding tot hul voordeel. Ons doen ’n beroep op die publiek om nooit hulp van vreemdelinge te aanvaar wanneer hulle geld trek nie, en om enige verdagte gedrag onmiddellik by die polisie aan te meld.”
Enigiemand met relevante inligting tot die saak word gevra om sers. Nancy Rihotso by 072 752 7794, te bel.





