OOS-KAAP. – ‘n Bejaarde man (75) is Saterdagoggend omstreeks 08:30 op ‘n plaas in die Kirkwood-omgewing aangeval en beseer.
Kol. Priscilla Naidu sê die polisie het ‘n oproep van bure ontvang wat die aanval, deur onbekende persone op die bejaarde buurman in die oggendure, aangemeld het. Na bewering was die slagoffer alleen tuis toe hy die deur vir sy honde oopgemaak het. Drie verdagtes met balaklawas het ingekom, die slagoffer met kabelbinders vasgemaak en aangerand. Dis slagoffer se kop is in die voorval beseer. Die verdagtes het met drie vuurwapens en juwele van die toneel gevlug.
Seven Fountains-polisiestasie ondersoek ‘n saak van roof met verswarende omstandighede.
Colleen Coetzee het op haar Facebook-blad gedeel hoe sy ‘n bejaarde persoon van sy grensdraad af tot by ‘n ambulans gehelp het. Sy het die foto gedeel en gesê dit is vir almal om te sien omdat verdagtes nie vra of jy sensitief is of nie. Coetzee vertel in haar plasing iets wat sy nooit sal vergeet nie, is die oom se gesig wat geweet het hy het daarin geslaag om te ontvlug en die seun toe hy sy pa bebloed teen ‘n draad sien lê het.
Lees Coetzee se volledige plasing hier onder:
Vir die “sensitive viewers” en die wat nie is nie. Hierdie foto is vir almal bedoel, want as hulle kom steel, en vat, en moor, vra hulle nie of jy sensitive is of nie.
Dis eers wanneer jy met ‘n ou omie se bloed op jou klere sit nadat jy hom teen sy eie grensdraad op die pad gehelp het in ‘n ambulans in, wat jy net weereens besef…
‘n Omie wat gee as daar gevra word, wat huise bou, al steel hulle, wat jou in jou oë kyk en smile soos die bloed by hom afloop en sê: “At least I’m surrounded by a pretty woman”. Dis só ‘n oom wat in sy huis vasgebind en geslaan en besteel sal word en met net die Here se krag by sy eie venster uit kon ontsnap. Dis die oom wat altyd gee en altyd help, met sy 5 honde, vanoggend 6 uur deur 3 swartmans vasgebind is.
Sy antwoord toe ek gesê het: “Hulle moes weet jy is alleen” – “What difference would it have made if my wife was here?” Ware woorde. Ware woorde. Dis die kyk in daai oom se gesig net om te weet hy het dit uit gemaak. Die kyk op sy seun se gesig toe hy sy pa bebloed teen die draad sien lê. Dis daai gesigte wat jy nooit in jou lewe sal vergeet nie.
Vandag is ‘n hartseer dag. Nog ‘n plaasaanval, op jou voorstoep. En nee, Hulle soek nie kos nie. Hulle soek gewere en geld. Jou lewe is ‘n goedkoop ruiltransaksie vir ‘n geweer en geld. Sad but true. Of hulle gevang gaan word of nie, môre maak hulle weer so. En dit is die realiteit!
Hoor my lied, Suid Afrika, jy is mooi. Maar jy is in jou moer.