Bejaarde op plaas in huis beroof, polisie soek verdagtes

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

VRYSTAAT. – ‘n Man (70) is Woensdag omstreeks 19:30, kort nadat hy van die dorp af teruggekeer het, in sy huis op die Blakewell-plaas, Kestell, deur verdagtes oorval. Die polisie het ’n soektog van stapel gestuur na drie verdagtes wat na bewering by die huisroof betrokke was.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die saak is Donderdagoggend vroeg by die polisie aangemeld. Volgens inligting is die slagoffer deur die verdagtes, geklee in maskers en handskoene, in sy huis ingewag. Hulle het hom met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan en sy hande vasgebind. Die verdagtes het in Sesotho en Afrikaans kontant, asook toegang tot die kluis, geëis. Verskeie items, soos vuurwapens, selfone, kontant, klere, elektroniese toestelle, kruideniersware en alkohol, is gesteel. Die gesteelde goedere is in die slagoffer se wit Toyota Hilux, wat buite geparkeer was, gelaai.

Terwyl die verdagtes die huis verder geplunder het, het die slagoffer daarin geslaag om homself los te maak, deur ’n venster te ontsnap en na ’n naburige plaas te hardloop om hulp te soek. Hy het kopbeserings opgedoen en het mediese behandeling ontvang.

Die polisie het vinnig gereageer. Sommige van die gesteelde items, insluitend ’n vuurwapen, is later op die agterkant van die slagoffer se bakkie teruggevind. Die verdagtes het gevlug en is steeds op vrye voet.

‘n Saak van huisroof is geopen en die ondersoek duur voort.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief