GAUTENG. – Dawid Muller het op Valentysdag sy 97ste verjaardag gevier en boonop sal hy en sy vrou Milly (89) op 4 Augustus 71 jaar getroud wees. Hulle het al die jare op Kuruman gewoon, maar het op 1 Maart 2016 by Ons Tuis Emily Hobhouse in Capital Park, Pretoria ingetrek.
Daleen Gouws, die woordvoerder van Ons Tuis-tehuise, sê die Muller-egpaar het op 4 Augustus 1953 op De Aar in die huwelik getree. Hulle spog met drie dogters, twee seuns, 13 kleinkinders en 15 agterkleinkinders.
Hulle gee raad vir ‘n lang en gelukkige huwelik. Oom Dawid sê hy het altyd vir sy vrou gegee wat sy nodig het en het altyd vir haar gesorg, selfs deur die moeilike jare en hy doen dit steeds. Tannie Milly se raad is om vir jou man lief te wees en vir hom om te gee.
Gouws sê oom Dawid, wat slegs tot gr. 7 skoolgegaan het, is op Valentynsdag 1927 op ‘n plaas tussen Kuruman en Vryburg in ‘n gesin van vyf susters gebore. Sy pa het ‘n gemengde boerdery gehad en het putte vir mense gegrawe. Oom Dawid sê hy het nog op ‘n donkiekar skool toe gery.
Tannie Millie is as ‘n jongste kind op 4 September 1935 in Kimberley in die Noord-Kaap gebore waar sy saam met twee susters en vyf broers grootgeword het. Haar pa het op die spoorweg gewerk en hulle was gelukkg.
En wat doen die twee as stokperdjies? Gouws sê oom Dawid het snoeker gespeel en kweek nou roosbome omdat sy vreugde in tuinmaak lê. Tannie Millie is lief vir hekelwerk en hou daarvan om legkaarte te bou.
Nuusflits sê ook geluk met ‘n 97ste verjaarsdag en ‘n baie besonderse 71ste huweliksherdenking wat voorlê.
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





