NOORDWES. – ‘n 73-jarige man is in ‘n hospitaal onder polisiebewaking nadat hy glo vir Johnathan Robbert Fourie (52) vermoor en Deon (55), sy broer, probeer vermoor het. Die voorval het Maandagoggend omstreeks 10:45 by die Chubby Chick-sakeperseel in die Potchefstroomse industriële gebied plaasgevind. Die broers is gesiene hoenderboere.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh, dui inligting aan dat die verdagte man met die sakebestuurder in ‘n vergadering was. Hy het skielik ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en op die twee broers geskiet. Veiligheidspersoneel het reageer en die man ná die skietvoorval aangehou. Johnathan is deur nooddienste op die toneel dood verklaar, terwyl sy broer na die hospitaal opgeneem is. Die verdagte sal op aanklagte van moord en poging tot moord in die Potchefstroom-landdroshof voorkom nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.
Genl.maj. Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê die polisie sal alles in hul vermoë doen om te verseker dat geregtigheid geskied.





