Soli Philander (65), oftewel Silamour Philander, bekende Suid-Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaar, het Woensdag weens kanker gesterf. Hy word onder meer onthou vir die aanbieding van programme soos Lirekeraai en was ‘n gerespekteerde akteur en skrywer.
Noel Oostendorp het namens die familie gesê Philander is vreedsaam oorlede terwyl hy deur sy familie omring was. “It is with great sadness that we announce the passing of Silamour ‘Soli’ Philander after a battle with cancer. They were surrounded by family and passed peacefully at the age of 65. Silamour was an integral part of South African society through the work they did in the arts and later on in their life with communities across Cape Town. As the family, we request privacy while we prepare to celebrate one of our country’s true artists.”
Gayton Mckenzie, die minister van sport, kuns en kultuur, het sy meegevoel met Philander se afsterwe uitgespreek en hulde gebring.
Die minister sê Philander sal onthou word as een van die land se mees geliefde kunstenaars wat oor baie jare gehore laat lag en dink het. Hy was bekend vir sy werk op die verhoog, televisie, radio en as spreker waar sy unieke humor mense regoor Suid-Afrika bymekaar gebring het. Baie mense het Philander leer ken deur sy verskyning op programme soos Liriekeraai en die Suid-Afrikaanse weergawe van Are You Smarter Than a 5th Grader?, waar sy skerp sin vir humor en warm persoonlikheid hom ’n huishoudelike naam gemaak het. Sy komedie en storievertelling het dikwels inspirasie uit die gemeenskappe van die Kaapse Vlakte geput, waar hy alledaagse ervarings met humor, eerlikheid en deernis gedeel het. Philander was ook ’n gerespekteerde akteur en skrywer wat oor die jare in verskeie film- en televisieproduksies verskyn het, onder meer Arendsvlei, Dias Santana, Hooten & the Lady, Devil’s Peak en The Umbrella Men: Escape from Robben Island.
McKenzie het gesê kunstenaars soos Philander speel ’n belangrike rol in die samelewing omdat hulle mense help om oor hul wêreld te dink en mekaar beter te verstaan. Hy het namens die departement sy simpatie met Philander se familie, vriende, kollegas en ondersteuners uitgespreek en gesê sy stories, humor en nalatenskap sal nog lank onthou word.







