Die Suid-Afrikaanse regering het sy burgers wat in die Midde-Ooste woon, aangeraai om van die beperkte vlugte gebruik te maak om verskeie lande te verlaat, aangesien ‘n toename in aanvalle in die komende dae verwag word.
Die streek is in chaos gedompel nadat die VSA en Israel militêre aanvalle op Iran geloods het, wat volgens berigte reeds tot meer as ’n duisend sterftes gelei het. Iran het daarna aanvalle in onder meer die Verenigde Arabiese Emirate geloods en sê dit teiken fasiliteite waar Amerikaanse troepe ontplooi is.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) sê op sy webwerf registrasies deur Suid-Afrikaners op die Travel Smart-stelsel het skerp toegeneem, met meer as 6 400 burgers wat teen 4 Maart 2026 in die streek geregistreer is.
Dirco het gesê beperkte kommersiële vlugte het hervat en burgers word aangemoedig om dit te benut om die streek te verlaat. Suid-Afrikaners word ook ontmoedig om tans nie-noodsaaklike reise na die Midde-Ooste te onderneem.
Bronne: Dirco





