MPUMALANGA. – Zietta Janse van Rensburg (40) is Woensdag deur die Nelspruit-landdroshof borg van R6 000 toegestaan. Sy staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Janse van Rensburg en haar voormalige skoonpa, Johan Janse van Rensburg (73), is Maandag deur die Valke in Malelane in hegtenis geneem.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê die saak spruit voort uit ’n ondersoek na beweerde bedrog van sowat R14 miljoen, waartydens geld glo deur verskeie rekeninge beweeg is in ’n poging om die oorsprong daarvan te verdoesel. Johan Janse van Rensburg het vroeër borgtog van R10 000 gekry nadat hy aansoek gedoen het op grond van sy mediese toestand, terwyl Zietta aanvanklik nie borgtog gevra het nie, maar later wel ’n aansoek ingedien het. Die twee het reeds weer in die Nelspruit-landdroshof voorgekom en sal na verwagting weer gedurende Mei weer saam in die hof wees.
In ’n aparte saak staan Zietta Janse van Rensburg ook in die Nkomazi-streekhof in Boschfontein op aanklagte van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente tereg. Sy sal na verwagting van 20 tot 22 April in daardie hof verskyn.



