MPUMALANGA. – Die NDBV het ‘n R20 000 beloning uitgeloof nadat Raygun, ‘n Kaapse bobbejaan (chacma), wat by Hoërskool Botleng in Delmas gejaag was, gruwelik doodgemaak is.
Hoofinspekteur Douglas Wolhuter van die NDBV sê: Vervolging, onderwys, of albei – geregtigheid vir Raygun begin by jou.” Raygun was geslaan en aan die brand gesteek en later is is sy hande, voete, kop en hart van sy lyf afgesny.
Die beloning is uitgeloof vir die suksesvolle vervolging van diegene wat betrokke is by die dier se dood. Diegene wat die video van die aanval op die dier gemaak het, word ook gevra om na vore te kom. Die video is Vrydag wyd op sosiale media versprei, maar ten spyte daarvan weier die skoolbestuur glo om die verantwoordelikes wat in die video verskyn, te identifiseer.
“Na oorleg met die skoolbestuur, wat verantwoordelik is vir die sowat 1 800 kinders op die perseel, het dit duidelik geword dat hierdie saak diep gewortel is in bygeloof rakende bobbejane wat in heksery gebruik word. Die NDBV is in kennis gestel dat die gemeenskap, wat na bewering die jag op Raygun begin het, die skool versoek het om hulle in te lig indien enige owerheid probeer om by die skool ondersoek in te stel oor Raygun se dood. Die skoolhoof, wat volgens haar eie weergawe haar motor uit die chaos gaan skuif en teruggehardloop het die skoolgebou in, weier om die name van die drie leerders te verskaf wat gesien is waar hulle Raygun op die skool se dak jaag. Volgens die skool het tien leerlinge vroeër die oggend flou geval, wat gelei het tot die oortuiging dat die bobbejaan gestuur is om te toor. Die gemeenskap beskerm mekaar ten alle koste, wat die NDBV se ondersoek ongelooflik moeilik maak.”
Wolhuter, wat ook die bestuurder van die wildbeskermingseenheid van die NDBC is, sê geen dier moet ooit sulke lyding ondergaan nie. Raygun se oorskot is vir ‘n nadoodse ondersoek ingeneem. Enigiemand met relevante inligting kan die NDBV by wild3@nspca.co.za of 011 9047 3590 bel.
Gerald Sambo, woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê aan Nuusflits die departement is diep geskok en hartseer oor die insident waar ‘n groep leerlinge volgens aanmelding die bobbejaan aangeval en doodgemaak het.
“Sulke optrede is heeltemal onaanvaarbaar en skend die kernwaardes van respek, empatie en verantwoordelikheid. Die departement veroordeel enige vorm van geweld teen diere ten sterkste en voel dat alle lewende wesens, mens of dier, verdien om met waardigheid en respek behandel te word.
Hierdie voorval beklemtoon die kritieke behoefte aan onderwys oor die belangrikheid van die behoud van die natuur en respek vir wild. Leerders moet geleer word om hul rol in die beskerming van die omgewing te verstaan. Ons doen ‘n beroep op alle belanghebbendes, skole, asook gemeenskappe, om saam te werk om sulke voorvalle in die toekoms te voorkom. Dit kan gedoen word deur ‘n diepgaande begrip van wildbewaring en omgewingsverantwoordelikheid te bevorder.”
Sambo sê die departement het ‘n gedetailleerde verslag oor die insident van die skool aangevra.


