GAUTENG. – ‘n Gr. 5-leerling van Laerskool Dimakatso in Soshanguve is Woensdag met ‘n byl beseer. Die departement van onderwys in dié provinsie het twee werknemers van die basiese onderwyswerksinisiatief (BEEI) ná die voorval geskors.
Luidens ‘n verklaring van Steve Mabona, GDO-woordvoerder, het die voorval volgens voorlopige verslae omstreeks 09:00 plaasgevind toe die onderwysassistent die leerling gevra het om te help om werkboeke van die biblioteek na ’n klaskamer te dra. Terwyl hulle in die biblioteek was, het ’n byl glo per ongeluk geval en die leerling aan sy hand beseer. Die leerling is onmiddellik vir mediese behandeling in ’n plaaslike hospitaal opgeneem.
Die departement het bevestig dat albei die onderwysassistent en algemene assistent met onmiddellike effek geskors is, hangende die uitslag van ’n interne ondersoek na die voorval. Volgens die departement is maatskaplike werkers van die distrik aangewys om psigososiale ondersteuning aan die leerder, sy gesin en die skoolgemeenskap te bied.
Volgens Matome Chiloane, LUR vir die Gautengse onderwysdepartement, neem die departement die saak ernstig op. “Ons is baie bekommerd oor hierdie voorval en monitor die leerling se herstel van naby. Die veiligheid en welstand van ons leerlinge is ons hoogste prioriteit.”





