MPUMALANGA. – Steven Gavanga (23) is tot 15 jaar tronkstraf in die Carolina-landdroshof gevonnis nadat hy in Maart 2023 ‘n vrou (49) in haar huis op die plaas Haarval in Carolina verkrag het.
Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê Gavanga het skuldig gepleit, is skuldig bevind en gevonnis nadat hy die slapende vrou in haar huis oorval, haar verwurg en verkrag het. Staatsaanklaer Mashinini het ter verswaring aangevoer Gavanga het die slagoffer se weerloosheid uitgebuit. Hy het voorts gesê Gavanga het weens oorweldigende getuienis teen hom skuldig gepleit. Die hof het ook ‘n slagofferimpakverklaring van emosionale trauma deur die slagoffer aangehoor. Sy is afhanklik van medikasie om te kan slaap.
Die verdediging het volgens Nyuswa geargumenteer Gavanga is jonk, ‘n eerste oortreder en het onder die invloed van drank opgetree. Daar is dus gevra dat daar van die voorgeskrewe minimum vonnis afgewyk moet word.
Die hof het die direkte vonnis opgelê. Gavanga se naam word in die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring en hy is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com