OOS-KAAP. – Mandla Qosho (46), Siyanda Makaleni (45) en Sgagela Mgwatyu (53) is vonnisse opgelê nadat hulle op 5 Maart in Makhanda-hooggeregshof skuldig gepleit het op aanklagte van sakeroof, roof met ‘n vuurwapen, twee van ontvoering en twee van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Kol. Priscilla Naidu sê Zoleka Gantana (57), eienaar van ‘n spazawinkel, en Kholosa Mpunga (27), ‘n winkelassistent, is op 8 Julie 2023 deur vyf verdagtes by Gantana se besigheid in die Ncera-woonbuurt in Kidds Beach beroof en ontvoer. Hulle is in Gantana se bakkie weggeneem en in ‘n hut op ‘n plaas in Peddie teen hulle wil aangehou.
Naidu sê dit was toe een van die slagoffers ‘n verdagte herken het, dat daar besluit is om die vroue om die lewe te bring. Die vroue is onder meer verkrag, hulle liggame verbrand en in stukke gesny voordat hulle oorskot in ‘n nabygeleë rivier gegooi is.
Speur.kol. Mxolisi Pongwana het die moorde onverpoosd saam met die speurderopsporingspan en Kidds Beach-speurtak se bevelvoerder ondersoek. Die bakkie van die oorledene is teruggevind en belangrike bewysstukke is tydens die ondersoek ontdek. Oorblyfsels van die slagoffers is deur Oos-Londen se honde-en-reddingseenheid gevind. Vier verdagtes is in hegtenis geneem, maar een is steeds voortvlugtig.
Qosho is lewenslank, Makaleni tot 15 jaar en Mgwatyu tot 20 jaar tronkstraf gevonnis. Themba Dingela (50), wat onskuldig gepleit het, bly in aanhouding totdat sy saak weer op 16 April voorkom.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene het die ondersoekers met ondersoekwerk wat tot die suksesvolle vonnisoplegging gelei het, geprys.





