WES-KAAP. – Trent Coetzer (36), Nakedi Makwesi (44), Evan-Lee Mohapi (25), Donell Coetzer (28) en Lyle Johnson (21) het in die Krugersdorp-landdroshof voorgekom nadat ’n geheime dwelmvervaardigingslaboratorium met ’n geraamde straatwaarde van R100 miljoen op ’n plaas in Hekpoort, naby Krugersdorp, ontdek is. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met die vervaardiging van en handel in onwettige dwelms.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê die polisie en ander wetstoepassingsowerhede het inligting oor vermeende onwettige dwelmvervaardiging op die perseel ontvang. Nadat ’n deursoekingslasbrief uitgereik is, is die plaas deursoek en die laboratorium ontdek. Die vyf beskuldigdes is op die toneel in hegtenis geneem. Die operasie is deur die Valke se narkotikaburo, in samewerking met misdaadintelligensie van polisie-hoofkantoor, die spesiale taakmag en die Wes-Randse K9-eenheid, gelei.
Die saak is tot 21 Oktober uitgestel vir die bevestiging van die beskuldigdes se woonadresse en die aanhoor van ’n formele borgtogaansoek. Al vyf bly in aanhouding.