Beskuldigdes van kaping en ontvoering bly in aanhouding

Lees ook :

Foto's: SAPD

MPUMALANGA. – Baveli Robert Maseko (37) en Orbin Mith Mohammed (23) het Maandag op aanklagte van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen met ammunisie, kaping en ontvoering in die Balfour-landdroshof voorgekom, waarna die saak tot 17 April uitgestel is. Beide bly in aanhouding.

Lt.kol. Jabu Ndubane sê die twee verdagtes is omstreeks 22:30 op 9 April gearresteer. Die Balfour-polisie is ingelig oor ‘n wit Ford-enkelkajuitbakkie wat glo onder dwang van ‘n vuurwapen in Morgenzon gesteel is en die slagoffer wat ontvoer is. ‘n Padblokkade is dadelik met behulp van eksterne rolspelers by uitgangspunte opgestel.

‘n Voertuig wat aan die beskrywing voldoen, is op die R23 opgemerk. Pogings om dit te stop, het in ‘n hoëspoedjaagtog ontaard. Die verdagtes het die voertuig tot stilstand gebring en te voet in die nabygeleë mielielande ingevlug. ‘n Soektog is met behulp van ‘n Transnet-hommeltuig onderneem en die verdagtes is opgemerk waar hulle langs die pad loop. Tydens deursoeking is die vuurwapen en ammunisie in hulle besit gevind. Hulle is gearresteer en vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla.

Ndubane sê die vasgebinde ontvoeringslagoffer is later langs die pad gekry en is huis toe geneem.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief