Brekende Nuus
Nuus

Bestuurder by Lebombo vas oor vermeende smokkel van Ford Ranger

Foto: BMA

MPUMALANGA. – Beamptes van die grensbestuursowerheid het ’n bestuurder by die Lebombo-grenspos in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om ’n bankgefinansierde Ford Ranger na Mosambiek te smokkel. Die owerheid se voertuigopsporingstelsel het die bakkie uitgewys toe dit die grenspos genader het. Volgens hulle was die paaiemente op die voertuig met meer as R70 000 agterstallig.

Dr. Michael Masiapato, kommissaris van die grensbestuursowerheid, sê die bestuurder het glo tydens die kontrole beweer dat hy by die owerheid se hoofkantoor in Pretoria werk. Hy het ook ’n brief getoon wat na bewering van die bank afkomstig was en hom sou magtig om die bakkie oor die grens te neem. Die owerheid het saam met die bank vasgestel dat die brief vervals is en dat die bank dit nie uitgereik of goedgekeur het nie. Die bestuurder is in hegtenis geneem en ’n saak is by die polisie vir verdere ondersoek geopen.