Brekende Nuus
Ongelukke

Bestuurder sterf toe vragmotor by Ngqura-hawe in water beland

Foto: Coastal Water Rescue

OOS-KAAP. – ’n Vragmotorbestuurder is dood nadat ’n vragmotor met mangaanerts en sleepwa Dinsdagaand by die Ngqura-hawe in Gqeberha in die water beland het.

Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê die NSRI in Gqeberha is kort ná 18:00 in kennis gestel dat die vragmotor gedeeltelik onder water was en daar vermoed is dat die bestuurder, die enigste persoon in die voertuig, in die kajuit vasgekeer was. Verskeie nooddienste en ander rolspelers, waaronder die polisie, polisieduikers, Transnet- nasionale grensowerheid, Gqeberha-brand-en-reddingsdiens, nooddienste en kommersiële duikers, het by die reddings-en-herwinningsoperasie betrokke geraak. Rescue 6 Alpha van die NSRI is ontplooi om met die operasie te help.

‘n Tegniese hysstelsel is gebruik om die vragmotor uit die water gelig. Die liggaam van die volwasse manlike bestuurder is tydens die herwinning gevind en deur die NSRI na die wal geneem. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Volgens Coastal Water Rescue was die vragmotor se kajuit ongeveer vyf meter onder die wateroppervlak. Die voorkant van die vragmotor, wat mangaanerts vervoer het, het van die sleepwa losgekom en het vermoedelik op die bodem van die hawe belan Did, terwyl die agterste sleepwa steeds op die kaai was. Omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, word deur die polisie en owerhede ondersoek. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer.