KWAZULU-NATAL. – ‘n Malawiese burger is Dinsdagoggend uitgetrek en aangerand nadat hy glo ‘n plaaswerker in Canelands met ‘n vuurwapen gedreig en beroof het.
Reaction Unit South Africa sê hulp is ontbied, waarna reaksiebeamptes omstreeks 08:50 op die toneel was. Die reaksiebeamptes is ingelig die verdagte het ‘n plaaswerker met ‘n 9 mm-pistool aangehou en van sy selfoon beroof.
Die beweerde verdagte is deur die gemeenskap kaal uitgetrek en erg aangerand.
“Die slagoffer het die plaaslike gemeenskap ingelig, wat die verdagte gewaar en hom aangekeer het. Hy is kaal uitgetrek en erg aangerand. Lede van die gemeenskap het voor die aankoms van die reaksiebeamptes vertrek.”
Die verdagte het aan Rusa-beamptes gesê hy is van die Salima-distrik in Malawi en het in 2021 in die land aangekom.
“Hy het ‘n replika van ‘n 9 mm-pistool in Durban-Sentraal gekoop en beroof al drie jaar lank slagoffers.”
Rusa sê drie selfone, ‘n replika-vuurwapen en pepersproei is in die verdagte se besit gevind.






