Beweerde stroper dood in nasionale park aangetref

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Die liggaam van ‘n man, vermoedelik in sy laat 40’s, is Maandagoggend vroeg in die Kruger Nasionale Park aangetref. ‘n Gedeelte van sy regteronderbeen was vermis.

Lt. kol. Jabu Ndubane sê Skukuza-polisie ondersoek die insident, nadat veldwagters tydens daaglikse patrollies op die liggaam afgekom het. Volgens die voorlopige geregtelike doodsondersoek van die polisie is die man moontlik deur wilde diere gebyt en doodgemaak.

Ndubane bevestig die man was voorheen vir betreding gearresteer en die saak is nog nie afgehandel nie. Die oorledene se naam sal vrygestel word sodra sy naasbestaandes hom formeel geïdentifiseer het.

“Lede van die publiek word gemaan om hulle daarvan te weerhou om die park onwettig binne te gaan, aangesien dit hul lewens in gevaar kan stel. Die park is die tuiste van wilde diere wat baie gevaarlik is en mense kan benadeel en selfs doodmaak.”

JP Louw en Isaac Phaahla van SANParke sê in ‘n verklaring die liggaam van ‘n beweerde stroper is langs die pad in die Pretoriuskop-gebied van die park aangetref.

“Volgens aanvanklike onbevestigde rapportering het drie individue met die doel om misdaad te pleeg, die park gedurende die nag onwettig binnegekom. Dit is in hierdie tyd dat hulle deur ‘n seekoei aangeval is en gevolglik het een verdagte noodlottige beserings opgedoen. Die ander twee het vermoedelik die lyk van hul makker gedra na waar dit vanoggend ontdek is.”

‘n Toeris het die liggaam opgemerk en toegemaak en by die spesifieke veldwagter van die area aangemeld. Die aanmelding is dadelik ondersoek en wetstoepassingsowerhede en patoloë is na die misdaadtoneel.

SANParke-bestuur maan diegene wat foto’s van die liggaam geneem het, om dit nie te deel nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer.

“Die bestuur herhaal ook die waarskuwing aan enigiemand wat die park onwettig binnegaan om van hierdie gevaarlike praktyk af te sien, met inagneming van die gevare van vry rondlopende wilde diere, sowel as arrestasie, wat dit inhou.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief