GAUTENG. – Klagtes oor ‘n seksuele verhouding tussen ‘n laerskoolskoolhoof en ‘n onderwyseres is by die onderwysdepartement ingedien.
Die hoof van ‘n laerskool in Pretoria en ‘n onderwyseres het glo op dié skoolperseel intiem verkeer. Die onderwyseres, wat deur die beheerliggaam aangestel is, is glo ná ‘n tugverhoor ontslaan.
Steve Mabona, woordvoerder vir die Gauteng-onderwysdepartement, het aan Nuusflits bevestig ‘n ondersoek is onderweg ná die onderwysdepartement ‘n klag ontvang het. Die adjunkhoof, word ook ondersoek nadat hy die onderwyseres tydens die tugverhoor verteenwoordig het.
“Die uitkoms daarvan sal die aksie wat geneem moet word, bepaal.”
Mabona sê die onderwyseres wat in die beweringe geïmpliseer is, is ‘n werknemer van die skoolbeheerliggaam by die betrokke skool.
“Daar moet kennis geneem word dat die oorplasing of skorsing van ‘n werknemer geïmplementeer word indien die werkgewer voel dat daar gronde is dat die werknemer die proses van ondersoeke in gevaar sou stel of ‘n bedreiging vir die welstand of veiligheid van enige persoon in die werkplek sou wees.”
Nuusflits het kommentaar van die laerskoo gevra en sal die kommentaar bywerk.





