OOS-KAAP. – Die Bityi-polisie het Maandag ’n saak van ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer geopen nadat ’n 35-jarige vrou van Mhaga in Sikhobeni na bewering deur ’n bekende verdagte ontvoer en aangerand is. ’n Video van die voorval het op sosiale media versprei en wys hoe die verdagte die vasgebinde vrou aanrand.
Die polisie is bewus van die video en dit vorm deel van die ondersoek. Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê geen inhegtenisneming is tot dusver gemaak nie en die verdagte, wat aan die polisie bekend is, is op die vlug. Beamptes van Bityi-polisie is besig om na hom te soek. Die polisie doen ’n beroep op die publiek om nie die video verder te versprei nie, aangesien dit die slagoffer aan sekondêre viktimisasie kan blootstel.
Enigiemand met relevante inligting oor waar die verdagte hom bevind, word gevra om die polisie te kontak. Die polisie waarsku ook teen enige vorm van boendoegeregtigheid en sê die gemeenskap moet die gereg sy loop laat neem terwyl die ondersoek voortduur.