Al is jy die grootste diereliefhebber, kan die geraas van ’n hond wat die heeltyd blaf, irriterend raak. Dit kan ook konflik tussen jou en jou bure veroorsaak.
Moontlike redes waarom jou hond konstant blaf, kan wees:
1. Angstigheid of onsekerheid: Jou hond het dalk ’n vreemde geluid gehoor of hy is in ’n omgewing wat hy nie ken nie.
2. Eensaamheid: Wanneer jou hond vir lang tye alleen by die huis gelaat word, is blaf dalk vir hom ’n uitlaatklep vir sy verlange na geselskap.
3. Beskerm hulle area: Honde is van nature territoriaal. Hulle sal blaf om die area waarin hulle is teen indringers te beskerm.
4. Opgewondenheid: Jou hond is dalk opgewonde om iemand of ’n ander dier te sien.
5. Fisiese of emosionele ongemak: Pyn, ongemak en ontsteltenis kan deur ’n blaf gekommunikeer word.
6. Gebrek aan opleiding en sosialisering: Wanneer jy nie jou hond van kleins af leer hoe om in sekere situasies op te tree nie, sal hy uit onkunde blaf.
Nou dat jy weet waarom jou hond moontlik heeltyd blaf, kan jy meer oplettend wees en aan oplossing begin dink om die bure én jou hond gelukkig te hou.
Bronne: PetMD, Pet Harmony, Animal Humane Society





