GAUTENG. – Die polisie is op die spoor van ’n groep gewapende verdagtes ná ’n bloedige skietery waarin 12 mense hul lewens Dinsdagaand in die Jumpers- informele nedersetting in Cleveland verloor het.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, provinsiale polisiewoordvoerder, sê beamptes het omstreeks 23:10 ‘n noodoproep van ‘n skietery ontvang. Met aankoms op die toneel is verskeie mense met skietwonde aangetref, waarna mediese nooddienste ontbied is om die beseerdes by te staan.
Volgens die aanvanklike bevindings is agt mans en drie vroue op die toneel dood verklaar, terwyl nog ’n man later in die hospitaal gesterf het. Nog minstens nege mense is beseer en vir behandeling na verskillende hospitale geneem. Inligting dui daarop dat meer as tien aanvallers naby ’n vulstasie in Cleveland uit ’n wit Toyota Quantum geklim het. Hulle het glo die nedersetting van verskillende kante binnegegaan en op inwoners losgebrand voordat hulle weer in dieselfde voertuig weggejaag het.
Spesiale ondersoekspanne, insluitend speurders, misdaadintelligensie en forensiese kenners, werk tans saam om die verdagtes op te spoor en die omstandighede van die aanval te bepaal. Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie en vorm deel van die ondersoek. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie.
Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Tommy Mthombeni, sal om 09:30 die toneel in Hospitaalstraat naby die Astron-vulstasie besoek. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom.





