KWAZULU-NATAL. – Die KwaZulu-Natalse departement van onderwys het Saterdag sy kommer uitgespreek oor ’n ernstige voorval van boeliegedrag by Hoërskool Mount View in Verulam. Die voorval het volgens aanduidings ongeveer twee maande terug plaasgevind.
Sipho Hlomuka, die LUR vir die provinsiale onderwysdepartement, het ‘n geen-verdraagsaamheidsbeleid teenoor boeliegedrag en die veiligheid en welstand van leerders bevestig en gesê dit bly ’n prioriteit. Hy het gesê die departement, saam met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en TruLife, het ’n provinsiale teenboelieveldtog van stapel gestuur om die probleem aan te spreek.
“Geen leerder behoort ooit onveilig by die skool te voel nie. As leerders skuldig bevind word aan boeliegedrag, sal dissiplinêre stappe geneem word,” het Hlomuka gesê.
Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits drie leerlinge, 13 en 14 jaar oud, is in hegtenis geneem vir ‘n vooral waartydens ‘n 13-jarige meisie na bewering gedreig is om ‘n beskermingsfooi te betaal. Netshiunda sê ‘n onbevestigde bedrag geld is op verskillende tye aan die verdagtes betaal. Die verdagtes het reeds in die hof verskyn.
Nuusflits het Hoërskool Mount View en die NVG vir kommentaar gevra.






