GAUTENG. – ‘n Boelievoorval het Woensdag by die Oos-Rand Commerce & Entrepreneurship School of Specialisation in Reiger Park, Boksburg, plaasgevind. Die Gauteng-onderwysdepartement veroordeel die voorval waarvan ‘n video versprei word. In die video kan gesien word hoe ‘n groep meisieleerlinge nog ‘n meisieleerling op die skoolgrond aanrand.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die betrokke leerlinge is geïdentifiseer en dissiplinêre stappe word tans ingevolge die skool se gedragskode geneem. Psigososiale ondersteuning is na die skool gestuur om berading aan die slagoffer te verleen. Die departement het beklemtoon dat boeliegedrag in enige vorm geen plek in skole het nie en dat maatreëls van geen-verdraagsaamheid toegepas sal word om die veiligheid en welstand van alle leerlinge te verseker.
Matome Chiloane, die LUR vir die GDO, het sy teleurstelling met die soveelste voorval uitgespreek en gesê: “Sulke voorvalle is betreurenswaardig en ondermyn die waardes van respek, waardigheid en sorg wat ons by leerlinge probeer kweek. Ons sal verseker dat dissiplinêre prosesse vinnig afgehandel word en dat ondersteuning aan alle betrokke leerlinge gebied word.”





