VRYSTAAT. – ’n 74-jarige boer is glo Vrydagoggend, 5 Desember, tydens ‘n plaasrooftog naby Warden deur vyf verdagtes oorval, beroof en met sy eie ’n vuurwapen, wat hy aan hom gedra het, geslaan.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Mahlomola Kareli, was die boer omstreeks 08:30 op ’n grondpad op pad terug plaas toe nadat hy ’n trekker met diesel volgemaak het, toe hy sien hoe sy Toyota Hilux-bakkie van sy woning af wegjaag. Vyf onbekende mans het hom toe na bewering genader, sy voertuig se deur oopgeruk en sy gelisensieerde .22-pistool gegryp. Een van die mans het hom met die kolf van die vuurwapen oor die kop geslaan, waarna hy op die grond geval het.
Die aanvallers het daarna in sy bakkie weggejaag. Toe die boer by sy huis kom, het hy sy 76-jarige vrou ongedeerd aangetref. Sy het aan die polisie verduidelik vyf mans het die huis deur die kombuis binnegegaan, ’n vuurwapen op haar gerig en haar beveel om die vuurwapenkluis oop te sluit. Drie gelisensieerde vuurwapens en ammunisie is gesteel.
’n Gesamentlike reaksie deur boere, privaat veiligheidsdienste en die polisie het tot die opsporing van die gesteelde Toyota Hilux op die N3 gelei. Ses verdagtes, tussen 28 en 42 jaar, is in hegtenis geneem en die boer se gesteelde vuurwapens is teruggevind. Die boer is vir behandeling van ‘n oogbesering na Harrismith geneem.
Die verdagtes sal binnekort op aanklagte van huisroof in die Warden-landdroshof voorkom.





