VRYSTAAT. – Riaan Heine (43), ‘n boer van Pretoriusrus in Frankfort, se liggaam is vroeër vandag in Leeuspruit gevind, nadat hy een van sy dogters Maandag gered en toe vermis geraak het.
Kapt. Loraine Earle sê aan Nuusflits Heine is deur ‘n sterk stroom in die spruit op sy plaas meegesleur. Hy het volgens inligting sy jong dogter wat in die water in die moeilikheid beland het, gered. Nadat hy haar na veiligheid gebring het, het hyself in die moeilikheid beland en is deur die water meegesleur. Hy kon nie op sy eie uit die water kom nie.
Polisieduikers het sy liggaam na ‘n soektog ongeveer 800 meter van waar hy vermis geraak het, gevind. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.