GAUTENG. – Die departement van landbou het ’n waarskuwing uitgereik oor die verdere verspreiding van Goss-verwelkingsiekte in Suid-Afrika, ’n ernstige bakteriese siekte wat mieliegewasse aantas.
Die siekte is die eerste keer in 2024 in die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en die Oos-Kaap aangemeld. Teen 2025 het dit verder versprei na Limpopo, Mpumalanga, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap. KwaZulu-Natal bly tans die enigste provinsie waar geen gevalle aangemeld is nie.
Volgens Jan Hendrik Venter en dr. Maanda Rambauli van die direktoraat van plantgesondheid, fokus die departement nou daarop om die siekte te bestuur en verdere verspreiding te beperk. Dit sluit onder meer die gebruik van weerstandbiedende mieliekultivars, wisselbou met gewasse soos sojabone en kleingrane, asook die streng instelling van higiënepraktyke op plase in.
Goss-verwelkingsiekte is ’n bakteriese infeksie wat mielieplante aanval. Dit veroorsaak lang, grysgroen tot bruin letsels op die blare, wat uiteindelik daartoe kan lei dat die plant verwelk en afsterf. Die siekte belemmer die plant se vermoë om normaal te groei en kan groot oesverliese veroorsaak. Die bakterie versprei maklik binne ’n land wanneer plante aan mekaar raak, maar kan ook oor langer afstande versprei deur besmette saad of plantreste. Landboumasjinerie speel ’n groot rol in die verspreiding, aangesien besmette plantmateriaal aan toerusting kan vasklou en na ander lande oorgedra kan word. Daar is tans geen chemiese middel wat die siekte effektief kan beheer nie, wat dit besonder moeilik maak om te bestuur. Daarom is voorkoming en goeie boerderypraktyke die belangrikste wapens teen die siekte.
Riglyne oor hoe om die siekte te bestuur, is op die departement se webwerf beskikbaar.







