Die Afrikaanse sanger Bok van Blerk het sy nuwe enkelsnit, Hart Van ‘n Leeu, bekend gestel, ‘n lied wat moed, deursettingsvermoë en die onbreekbare gees van Suid-Afrikaners vier. Bok, oftewel Louis Pepler, spog met vorige treffers soos, De La Rey, My Kreet en Ik Ben Een Afrikaander.
Fanie Nel, woordvoerder van die Coleske Groep, sê die lied is deur Bok en Johan Vorster geskryf en is geïnspireer deur die motivering wat ‘n afrigter voor ‘n belangrike wedstryd aan sy span sou gee. Volgens Bok is die boodskap egter veel wyer en is dit bedoel vir enigiemand wat uitdagings met vasberadenheid aanpak.
Die lied bevat ‘n stadionkoor om die gevoel van samehorigheid vas te vang, terwyl die musiekvideo op die stel van die musiekblyspel Ons Vir Jou verfilm is. Die video sluit ook persoonlike elemente uit Bok se familiegeskiedenis in, waaronder foto’s van sy pa en oupa wat rugby gespeel het, asook sy negejarige seun, Samuel, wat self rugby speel.
Volgens Bok is Hart Van ‘n Leeu meer as net ‘n sportlied, dit is ‘n huldeblyk aan Suid-Afrikaners se vermoë om saam te staan, moed te hou en nooit tou op te gooi nie. Hy glo die lied se opbouende boodskap en energieke klank sal by luisteraars aanklank vind.





