Die nasionale vrouespan se oorwinning Saterdagaand in die Athlone-stadion het nie net die reeks met 1-1 gelykop laat eindig nie, maar die span ook waardevolle momentum gegee vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, wat oor minder as drie weke in Engeland begin. Nadat hulle die vorige week so naby gekom het aan ‘n wen teen die Kiwi’s, het die Bokke die krane oopgedraai vir ‘n nodige oorwinning voor ‘n begeesterde skare Bok- en Black Fern- ondersteuners.
Die Suid-Afrikaners het halftyd 24-12 voorgeloop en het in die tweede helfte voortgegaan met nog drie drieë om hul teenstanders met sewe drieë teenoor vier te troef. Die tuisspan het die skrums gedomineer en hul kragtige baldraers het die basis vir die aanvalle gelê. Nieu-Seeland se gevaarlike agterlyn is menigmaal geneutraliseer en ‘n mens kon duidelik sien dat die SA-afrigterspan hul huiswerk gedoen het. Linkervleuel Ayanda Malinga het die telbord ge-open toe sy ‘n los bal opgeraap het om ‘n uitbundige drie te druk (sien foto), alles te danke aan die puik Springbok-vrouespan se volgehoue druk.
Die NZ-vroue het durf getoon deur deurentyd te probeer om punte aan te teken, maar die Springbok-vrouespan het hulle beste prestasie van die seisoen gelewer om die Black Ferns XV-span met 41-26 te verslaan.
Punte: Springbok Vroue 41 (24) – Drieë: Ayanda Malinga, Byrhandré Dolf, Libbie Janse van Rensburg, Yonela Ngixingolo, Lindelwa Gwala, Lerato Makua, Luchell Hanekom. Oorskoppe: Libbie Janse van Rensburg (3).Black Ferns XV 24 (12) – Drieë: Kelsey Teneti, Holly Greenway, Luka Connor, Justine McGregor. Oorskoppe: Hannah King (2).
Lees ook: Vroue-Bokke breier verduidelik gebrek aan agterspeler spel





