WES-KAAP. – Ouers word gewaarsku om hulle kinders noukeurig dop te hou nadat ‘n bevestigde geval van breinvliesontsteking onlangs by ’n skool in Durbanville aangemeld is.
Volgens ‘n pediater, dr. Willem Smit, kan die siekte vinnig versleg en kinders kan binne ure baie siek word. In sommige gevalle kan ’n kind binne 24 uur agteruitgaan en selfs sterf as behandeling vertraag word. Selfs kinders wat oorleef, kan ernstige langtermynkomplikasies ontwikkel, soos gehoorverlies, breinskade, littekens, ledemaatbeserings en leerprobleme. Dr. Smit sê ouers moet onmiddellik mediese hulp soek as ’n kind simptome toon soos skielike hoë koors, ernstige hoofpyn, stywe nek, braking, ligsensitiwiteit, slaperigheid of verwardheid, ’n uitslag wat nie verdwyn as dit ingedruk word nie, of koue hande en voete, bleek of vlekkerige vel en ernstige spierpyn. Hy beklemtoon: “Moenie wag om te sien hoe dit ontwikkel nie. Vroeë behandeling met antibiotika en hospitaalversorging kan lewens red.”
Die siekte is voorkombaar deur inenting. Dr. Smit raai aan dat kinders van twee maande en ouer die BEXSERO-entstof kry en dat dit oor twee maande herhaal moet word, terwyl kinders van nege maande en ouer beide BEXSERO en MENACTRA moet kry indien hulle nog nie ingeënt is nie. Die MENACTRA-entstof beskerm teen die A, C, W en Y-stamme, terwyl BEXSERO teen die B-stam beskerm, wat die mees algemene oorsaak van die siekte by babas en adolessente in die Wes-Kaap is. Ouers word aangemoedig om die inentingstatus van hul kinders te kontroleer en met ’n dokter te praat oor inhaal-inentings indien nodig. Dr. Smit sê: “As jy ooit bekommerd is oor jou kind, gaan soek onmiddellik mediese hulp en vertrou jou instink.”





