NOORD-KAAP. – Die liggaam van Hendrik Venter (81), ‘n boer van Kuruman, is Vrydag op ‘n plaas langs sy voertuig aangetref. Die polisie het bevestig vier verdagtes is nou in hegtenis.
Kol. Cherelle Ehlers sê die Kuruman-polisie het nog drie verdagtes omstreeks 10:30 vanoggend in Hotazel aangekeer.
“Die vier verdagtes tussen die ouderdom van 18 en 26 jaar sal na verwagting binnekort in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Hendrik Venter se liggaam met kopwonde is Vrydag omstreeks 09:45 by die hek van ‘n aangrensende plaas, langs sy voertuig, aangetref. ‘n Verdagte is intussen deur die polisie aangekeer.
Kol. Cherelle Ehlers sê aan Nuusflits Venter het sy plaas tussen Kuruman en Hotazel omstreeks 08:30 verlaat om beesposte te besoek. Die polisie is ontbied nadat sy liggaam later ontdek is. Volgens vermoede is ‘n onbekende bedrag geld vermis.
Alle relevante rolspelers is op soek na verdagtes.
“Omstreeks 18:00 is drie verdagtes naby Hotazel opgespoor. Twee verdagtes het gevlug, maar die derde man (25) is aangekeer.”
Ehlers sê daar word volgens vermoede nog na vier verdagtes gesoek.
“Die soektog duur voort en enigiemand wat inligting het kan lt.kol Gert du Plessis by 082 454 2942 bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.”
Verskeie eenhede van Kuruman wat die honde-eenheid, sigbare polisiëring, hoofwegpatrollie, misdaadintelligensie en die plaaslike kriminele rekordsentrum insluit, is deel van die opsporingsoperasie.