VK. – Drie Britse vroue wat kommer laat ontstaan het nadat hulle ná ’n besoek aan Suid-Afrika nie soos verwag na die Verenigde Koninkryk teruggekeer het nie, is intussen veilig opgespoor. Liz Osbourne, haar niggie Kimberlee Langley en hul vriendin Mel Wright, almal van Market Harborough in Leicestershire, is volgens hul plaaslike radiostasie, Harborough FM, gevind nadat hul families hulle as vermis aangemeld het.
Harborough FM het op 5 November bevestig dat ’n familielid op sosiale media laat weet het dat al drie vroue opgespoor is. Die vroue het op 22 Oktober na Suid-Afrika gereis en sou tussen 30 Oktober en 1 November na Brittanje terugkeer. Liz se dogter, Courtney, het hulle op 4 November as vermis by die Britse polisie aangemeld nadat die familie nie daarin kon slaag om hulle te bereik nie.
Die omstandighede waaronder die vroue opgespoor is, asook waar hulle gevind is, is nie bekend gemaak nie. Berigte dat hul terugvlug moontlik vertraag en via Frankryk herlei is, is ook nie bevestig nie.
Bronne: Dazzling Dawn, Paul Arnott, The Mirror, Stephanie Wale, Harborough FM, The Sun