Brekende Nuus
Afrikaans

Buitelandse burgers aangekla van diefstal van 40 selfoontoringbatterye

Foto's: SAPD
Foto's: SAPD

KWAZULU-NATAL. – Agt buitelandse burgers is Donderdag met selfoontoringbatterye ter waarde van R1 m. in hulle besit in hegtenis geneem.

Kol. Robert Netshiunda sê inbrake by drie selfoontorings in die King Cetshwayo-distrik is deur die taakspan vir ekonomiese infrastruktuur ondersoek. Vier verdagtes is in Gingindlovu vir die peuter met noodsaaklike infrastruktuur in hegtenis geneem. Die ondersoek het die taakspan na ‘n verdere geïdentifiseerde adres in Chatsworth geneem waar vier verdagtes glo besig was om vermoedelik gesteelde selfoontoringbatterye te verpak.

Altesaam 40 selfoontoringbatterye van drie verskeie selfoonnetwerk-maatskappye is in die besit van die verdagtes gevind.

Die agt verdagtes sal vandag in onderskeidelik die Mtunzini- en Chatsworth-landdroshowe op aanklagte van peuter met noodsaaklike infrastruktuur en die besit van vermoedelike gesteelde eiendom, ontvangs van vermoedelik gesteelde eiendom, sowel as die besit van inbraak-implemente, verskyn.