KWAZULU-NATAL. – Sowat 35 mense is beseer toe ’n bus vanoggend kort voor 06:00 die R56 net ná Laerskool Mkuzane naby Richmond, verlaat en op sy sy tot stilstand gekom het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens is vanuit Cato Ridge na die ongelukstoneel otnbied. ’n Triage-stelsel is op die toneel op die been gebring en verskeie ambulanse is ontplooi. Van die insittendes het beserings van gering tot kritiek opgedoen. Nadat hulle op die toneel gestabiliseer is, is hulle na verskeie hospitale vervoer.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Die polisie was volgens Jamieson op die toneel en sal die voorval verder ondersoek.
Kry jou nuutste nuus elke oggend per e-pos. Teken hier aan: