Buurman steek glo motor oor R200-leninggeskil aan die brand

Lees ook :

Foto: Reaction Unit South Africa

KWAZULU-NATAL. – ’n Geskil oor ’n R200-lening het Sondagoggend tot ’n konfrontasie tussen bure in Waterloo en onder andere brandstigting gelei.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê in ‘n sosialemediaplasing die klaagster, ’n vroulike inwoner, het hulp ontbied om die verdagte op te spoor. Volgens die vrou was sy en haar drie minderjarige kinders Saterdag by die huis toe die buurman opgedaag het en R200 geëis het wat haar man glo geleen het. Die man het ’n vuurwapen uitgehaal en gedreig om deur ’n houtdeur te skiet. Uit vrees vir haar veiligheid het die vrou haar man gebel, wat die geld onmiddellik aan die man oorhandig het. Die vrou het aanvaar dat die saak daarmee afgehandel is.

Ure later, Sondagoggend omstreeks 00:30, het die buurman teruggekeer en gepoog om gewelddadig toegang tot die huis te verkry. Toe die bewoners wetstoepassers kontak, het die man na ’n rooi VW Jetta geloop, ’n venster stukkend geslaan en die voertuig aan die brand gesteek. Hy het daarna van die toneel gevlug en is nie weer sedertdien gesien nie. Die voertuig is ernstig beskadig.

Volgens Rusa se operasiesentrum is ‘n foto van die verdagte beskikbaar en sal op instruksie van die polisie-ondersoekbeampte aan die publiek beskikbaar gestel word.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief