Die Stad Kaapstad het Cape Town Beach Alerts bekendgestel, ’n nuwe aanlyn platform waar inwoners en besoekers die watergehalte en ander belangrike inligting oor strande en getypoele kan nagaan.
Die platform verskaf die jongste sowel as langtermyn-watergehalteresultate vir strande en getypoele langs die Atlantiese en Valsbaai-kuslyn.
Dit bevat ook inligting oor omgewings- en besoedelingswaarskuwings, lewensredderdienste, weerstoestande en voorspellings vir individuele strande.
Gebruikers kan die platform by beachalerts.capetown.gov.za besoek.
Dit is ook deur die Stad Kaapstad se mobiele toepassing beskikbaar. Gebruikers wat op die toepassing registreer, kan kennisgewings oor omgewings- en besoedelingsvoorvalle ontvang.
Cape Town Beach Alerts wys watergehalte volgens kleure
Die platform se soekfunksie laat gebruikers toe om ’n spesifieke strand of getypoel te vind.
Watergehalteresultate word volgens ’n kleurstelsel aangedui:
- Groen beteken die resultaat voldoen aan die riglyne vir ontspanningsgebruik.
- Amber dui op ’n enkele toets wat nie aan die riglyne voldoen het nie.
- Rooi dui op twee opeenvolgende toetse wat nie aan die riglyne voldoen het nie.
Gebruikers kan die jongste uitslag van die afgelope week sien, of die langtermynuitslae oor ’n bewegende tydperk van 365 dae raadpleeg.
Die platform wys onder meer wanneer die jongste watermonster geneem is, waar monsters by ’n spesifieke strand geneem word en hoeveel monsters gedurende die afgelope 365 dae getoets is.
Dit toon ook hoeveel monsters aan die nasionale riglyne voldoen het, wanneer die laaste onbevredigende uitslag aangeteken is en die uitslae van die laaste agt monsters.
Ander inligting sluit in:
- die langtermynklassifikasie van ’n strand;
- hoe gereeld die water getoets word;
- aktiewe waarskuwings;
- die dag se weer en ’n driedaagse voorspelling;
- windsterkte en -rigting;
- beskikbaarheid en tye van lewensredderdienste;
- of ’n strand gedurende die seisoen Blouvlagstatus het; en
- inligting oor watergehalteriglyne en die mariene omgewing.
Meer as 100 toetsplekke
Volgens die Stad reis ’n toegewyde span weekliks langs meer as 300 km van Kaapstad se kuslyn om watermonsters by meer as 100 plekke te versamel.
Die watergehalte van Kaapse strande word gemeet volgens die hoeveelheid enterokokke in die water. Dit word internasionaal as ’n belangrike aanduiding van moontlike gesondheidsrisiko’s in kuswater gebruik.
Die watermonsters word onafhanklik ontleed deur ’n laboratorium wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (SANAS) vir mikrobiologiese ontleding van seewater geakkrediteer is.
Kaapstad se onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, Eddie Andrews, het gesê die doel van die platform is om ingewikkelde watergehaltedata makliker verstaanbaar vir die publiek te maak.
Volgens Andrews is dit slegs die eerste fase van die platform.
Die Stad beplan om later ook inligting oor onder meer honde wat op strande toegelaat word, opgraderings langs die kus en waarnemings van seelewe by te voeg.
Gebruikers sal ook kennisgewings kan ontvang oor voorvalle soos besoedelingsinsidente, ’n rioolstorting, ’n walvis wat strand, die teenwoordigheid van ’n hondsdol rob of groot hoeveelhede opblaasvisse wat uitspoel.
“Ons wil hê Cape Town Beach Alerts moet die plek word waar Kapenaars en besoekers al die relevante inligting oor strande kan kry,” het Andrews gesê.
Die platform is 24 uur per dag beskikbaar by beachalerts.capetown.gov.za.