LIMPOPO. – Kringtelevisie-beeldmateriaal het ’n deurslaggewende rol gespeel in die opsporing van ’n 25-jarige man wat glo ’n 16-jarige meisie in Mahwelereng ontvoer en verkrag het. Die verdagte het glo ook die slagoffer se bankkaarte gebruik om geld by ‘n kitsbank te trek.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê die verdagte is Dinsdag tydens ’n intelligensiegedrewe operasie deur die polisie vasgetrek. Die meisie is Sondagaand glo met ‘n mes gedreig, waarna sy ontvoer en verkrag is. Haar bankkaarte is glo daarna deur die verdagte gebruik om geld by ’n kitsbank te trek, wat deur CCTV-kameras afgeneem is. Die beeldmateriaal het ondersoekers gehelp om hom te identifiseer en op te spoor.
Die man sal na verwagting binnekort op aanklagte in die Mahwelereng-landdroshof verskyn.





