WES-KAAP. – ’n Chemiese voorval by ’n perseel in Montague Gardens is Maandagaand onder beheer gebring nadat brand-en-reddingsdienste vroeër die middag op rook uit ’n gebou gereageer het. Vier mense is vir blootstelling behandel, van wie een na ’n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer is.
Luidens ‘n verklaring van Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad se brand-en-reddingsdienste, het die voorval Maandag omstreeks 15:30 plaasgevind. Die eerste beampte op die toneel het dit as ’n chemiese insident geïdentifiseer, waarna die gebou ontruim is en ’n isolasiegebied met ’n afperkingsone van tot 300 meter ingestel is. Verskeie paaie in die omgewing, insluitend gedeeltes van Montague Drive, Linkweg, Railwayweg, Marconiweg en omliggende strate, was tydelik gesluit. Motoriste moes van alternatiewe roetes gebruik maak. Metro-reddingsdienste, verkeersdienste en die polisie het op die toneel bystand verleen.
Hazmat-tegnici het die toneel beoordeel en bevestig dat die voorval verband hou met bedrywighede op die perseel en nie met ’n brand nie. ’n Houer wat die chemiese reaksie veroorsaak het, se temperatuur het later begin stabiliseer, wat beteken dat die reaksie sou stop namate dit afkoel. Die dampwolk wat oor die gebied gehang het, het intussen verdwyn en die area is veilig verklaar.
Die gebou is geventileer en aan die eienaars terug oorhandig.
Verskeie paaie in die omgewing, insluitend gedeeltes van Montague Drive, Linkweg, Railwayweg, Marconiweg en omliggende strate, is tydelik gesluit. Motoriste is aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik. Metro Redding, Verkeersdienste en die polisie het op die toneel bystand verleen.





