Vier Chinese vissersvaartuie is onderskep nadat hulle glo sonder toestemming Suid-Afrika se eksklusiewe ekonomiese gebiede binnegegaan het. Nadat ‘n boete betaal is, het die vaartuie uit SA-waters vertrek.
Volgens Willie Aucamp, minister van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, het dié departement se Vissery-tak saam met die polisie se taktiese span opgetree. Die skepe – Zhong Yang 231, Zhong Yang 232, Zhong Yang 233 en Zhong Yang 239 – is by die Kaapstad-hawe onder bewaking geplaas. Ondersoeke het gewys dat die vaartuie binne 12 seemyl van die kus van KwaZulu-Natal was en later langs die Oos-Kaap beweeg het. Die kapteins van die Shenzhen Shuiwan Pelagic Fisheries Co. Ltd. se vaartuie is ingevolge die wet op lewende mariene hulpbronne 18 van 1998 aangekla en ’n administratiewe boete van R400 000 is opgelê. Nadat die boete betaal is, het die vaartuie Suid-Afrikaanse waters verlaat.
“Suid-Afrika bly daartoe verbind om sy maritieme gebiede te beskerm, mariene hulpbronne te bewaar en internasionale samewerking te versterk om onwettige, ongemelde en ongereguleerde visvang te bekamp.”
Druk hier om meer te lees.




