KWAZULU-NATAL. – ’n Vermeende kapwinkel (chop shop) met Volkswagen-voertuigonderdele is Dinsdag tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie in Umlazi deur die eThekwini-distrikstaakspan ontdek.
Volgens lt.kol. Paul Magwaza is inligting rakende verskeie Volkswagen-voertuie wat gesteel of gekaap is in gebiede soos Durban, Sydenham, Berea, Umbilo, Hillcrest en Pinetown ingewin. Inligting wat bekom is, is geverifieer en betroubaar bevind. Die perseel is deursoek en daar is op ‘n groot hoeveelheid vermeende gesteelde voertuigonderdele afgekom. Hierdie onderdele het deurpanele vir VW Polo-voertuie, paneelborde, veringstelsels, buffers, pedale, stuurwiele asook kant- en agterspieëls ingesluit.
’n Enjin wat tydens die soektog gevind is, is positief geïdentifiseer as een wat aan ’n voertuig behoort wat gedurende November 2024 in Pinetown gesteel is. Ander enjins is ook ondersoek en daar is bevind dat hulle wel gemanipuleer is. ’n Stel nommerplate wat op die toneel gevind is, is gekoppel aan ’n voertuig wat in September 2024 in die Berea-polisiëringsgebied as gesteel aangemeld is.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die verdagte moontlik vanaf die gehuurde perseel voertuigonderdele verkoop het. Die verdagte was nie tydens die operasie teenwoordig nie. Daar is op al die onderdele vir verder ondersoek beslag gelê. Die soektog na die verdagte duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





