GAUTENG. – Die polisie het glo verskeie eiendomme wat met polisielede verbind word in Centurion deursoek as deel van die ondersoek na die dood van luitenant-generaal Sindile Mfazi, die voormalige adjunk- nasionale polisiekommissaris vir misdaadopsporing. Mfazi is in Julie 2021 oorlede. Sy dood is destyds aan komplikasies wat met Covid-19 verband hou, toegeskryf, maar word nou as ‘n moord ondersoek.
Ná verdere forensiese ondersoeke en die heropening van die saak ondersoek die polisie egter nou die moontlikheid dat hy vermoor is.
Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die saak, wat aanvanklik as ‘n geregtelike doodsondersoek hanteer is, nou ‘n volskaalse moordondersoek is. Sy sê ondersoekspanne het Maandag op vier persele – twee kantore en twee woonhuise – toegeslaan en beslag gelê op verskeie elektroniese toestelle wat deel van die ondersoek sal vorm. Mathe sê een persoon van belang word tans ondervra, terwyl die soek-en-beslagleggingsoperasie steeds voortduur. Sy wou nie die identiteit van persone van belang of die ligging van verdere operasies bekend maak nie omdat die ondersoek uiters sensitief is.
Die ondersoek word deur die polisie se Koue Sake-eenheid voortgesit.
Bronne: eNCA, Jacaranda FM, TimesLIVE, IOL





