Brekende Nuus
Nuus

Curro-hoof sterf ná huisroof waarin broer ook dood is

Foto: Curro Westbrook

MPUMALANGA. – Die Curro-gemeenskap is in rou ná die dood van Dirk Steenkamp, uitvoerende hoof van Curro Bankenveld, wat beswyk het nadat hy op 5 September tydens dieselfde huisroof waarin sy broer noodlottig gewond is, geskiet is. Nadat hy gewond is, het Dirk vroeër uit die hospitaal in ‘n boodskap aan die skool geskryf: “Ek bly lief vir hierdie land en my ou Witbank.”

Curro Bankenveld het bevestig dat Steenkamp oorlede is en hom beskryf as ’n geliefde uitvoerende hoof. Hy was voorheen hoof van die hoërskool by Curro Westbrook en was ook deel van die span by Curro Roodeplaat. Die twee broers is verlede Saterdag tydens ’n huisroof by hul woning in Emalahleni (Witbank), geskiet. Francois Steenkamp (38) is tydens die voorval noodlottig gewond. Volgens inligting wat voorheen deur Karp Bonanza gedeel is, was Francois en Santa Steenkamp by die Loskopdam Classic terwyl hul twee seuns by die huis was. Die huisrowers het glo ingebreek terwyl die twee broers tuis was. Francois is volgens dié inligting sewe keer geskiet toe hy glo probeer het om sy jonger broer Dirk te beskerm. Hy is op die toneel dood. Dirk is in die maag gewond en moes ’n noodoperasie ondergaan.

Curro het ná sy dood sy medelye met die Steenkamp-familie betuig en gesê Dirk was “’n lid van die Curro-familie in elke sin van die woord.”

Nuusflits het polisiekommentaar gevra.

Medelye stroom in van verskeie skole. Curro Westbrook het gedurende 2024 die aanstelling van Dirk Steenkamp soos volg gedeel:

Foto: Carlo Steenkamp