Brekende Nuus
Finansies

DA eis antwoorde oor Denel-finansies – Januarie-salarisse wel betaal

GAUTENG. – Die DA eis antwoorde oor die gebruik van miljarde rand se staatsreddingsboeie aan Denel, nadat dit aan die lig gekom het dat werknemers by sommige afdelings aanvanklik ingelig is dat Januarie-salarisse moontlik nie betaal sou word nie. DefenceWeb het egter berig dat werknemers by Denel Dynamics en Pretoria Metal Pressings (PMP) wel hul Januarie-salarisse ontvang het.

Volgens ‘n verklaring van Chris Hattingh van die DA is berigte dat afdelings van Denel nie werknemers se salarisse kon betaal nie, ’n ernstige aanduiding van voortgesette bestuurs- en finansiële mislukkings, ondanks reddingsboeie en waarborge wat sedert 2019 aan die staatsverdedigingsmaatskappy toegestaan is.

Die DA wil weet waar die reddingsfondse bestee is, of goedgekeurde herstelplanne behoorlik geïmplementeer is, en wie aanspreeklik gehou word vir die herhalende krisisse. Volgens die party is Denel tydens die staatskapingsjare ernstig verswak deur gekompromitteerde leierskap, finansiële misbruik en die verlies van kritieke vaardighede.

Die DA voer aan dat die voortgesette onvermoë om finansiële stabiliteit te verseker, dui op strukturele probleme wat nog nie aangespreek is nie. Volgens die party verander Denel se verskuiwing na die departement van verdediging nie die realiteit van swak finansiële beheer en ’n gebrek aan gevolgbestuur nie. Die party beklemtoon dat ’n onderneming wat sukkel om salarisse te betaal, nie die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag geloofwaardig kan ondersteun nie.

Die DA het gesê hy sal volle deursigtigheid eis oor die besteding van reddingsboeie, bewys van die implementering van herstelplanne en aanspreeklikheid vir diegene wat vir die situasie verantwoordelik is.

Bronne: Defence Web, DA