Brekende Nuus
Politiek

DA gee verdere inligting oor Gayton McKenzie aan OB

Foto: Gayton McKenzie

Die DA het verdere inligting aan die openbare beskermer (OB) voorgelê as deel van ’n ondersoek na Gayton Mckenzie, die minister vir sport, kuns en kultuur, se beweerde oortreding van sy ampseed.

Leah Potgieter, die DA se woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, sê die party beweer McKenzie het moontlik sy binnekring en die Patriotic Alliance (PA) bevoordeel deur persone met ‘n verwantskap aan die PA in poste by openbare entiteite in die departement aan te stel. Volgens die DA het onlangse ondersoeke minstens 19 mense met bande met die PA geïdentifiseer wat op die rade van openbare entiteite binne die departement aangestel is. Dit sluit die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, die Nasionale Kunsteraad, die National Film en Video Foundation en die Robbeneiland-museum in. Die DA beweer sommige van dié persone dien op meer as een raad, wat volgens die party moontlike botsings van belange kan skep.

In die aanvullende klag, wat Donderdag ingedien is, vra die OB om die ondersoek uit te brei na bewerings dat McKenzie moontlik die etiekwet vir uitvoerende lede en die uitvoerende etiekkode oortree het. Die DA het ook verdere inligting oor McKenzie se R31 miljoen-reis na die Sokkerwêreldbeker voorgelê. Volgens die party het die minister se afvaardiging van 18 lede verskeie persone uit sy politieke kantoor ingesluit. Die DA sê dit het ’n Paia-versoek ingedien om verdere inligting oor die afvaardiging te bekom en dat dié inligting aan die OB voorgelê sal word.

Die party se aanvanklike klag het onder meer gefokus op die aanstelling van PA-lede op die 2025/26 Mzansi Golden Economy-beoordelingspaneel en die minister se R31 miljoen-reis na die wêreldbeker. Die DA sê die OB moet nou die nuwe bewerings teen die beskikbare bewyse toets.