WES-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het strafregtelike klagtes teen die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Nobuhle Nkabane, ingedien, vir die beweerde misleiding van die parlement en die bevordering van ANC-kaderontplooiing. Die klagtes is vanoggend (Dinsdag) by die Kaapstad-Sentraal-polisiekantoor ingedien. Die party eis Nkabane se onmiddellike afdanking.
Karabo Khakhau LP, die nasionale DA-woordvoerder en DA-lid van die portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding, sê in ‘n vrygestelde verklaring Nkabane het valslik aan die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding gesê dat ’n “onafhanklike” evaluasiepaneel die aanstellings van die raadsvoorsitters van sektorale en onderwysopleidingsowerhede (Seta) hanteer het.
Die DA beweer egter dat lede van die sogenaamde onafhanklike paneel in werklikheid uit haar eie departement afkomstig is en politieke bondgenote insluit, onder andere haar stafhoof en ’n leier van die ANC Jeugliga. Verder het Nkabane na bewering valslik verklaar dat advokaat Terry Motau SC die voorsitter van die paneel was, ’n bewering wat hy skriftelik ontken het. Hy het bevestig dat hy nie van die proses geweet het of daaraan deelgeneem het nie.
Die DA voer aan dat hierdie optrede nie bloot swak oordeel is nie, maar ’n doelbewuste poging om die parlement en die publiek te mislei. Die party het aangedui dat dit nie die begroting van die departement van hoër onderwys en opleiding sal steun terwyl dit onder die leiding van ’n minister onder strafregtelike ondersoek is nie.
“Ons sal teen die begrotings van departemente stem wat deur korrupte ANC-ministers gelei word,” lui die verklaring.
Die DA het ook president Cyril Ramaphosa vir sy “stilte en gebrek aan optrede” gekritiseer en beweer dat dit korrupsie in die Uitvoerende Gesag fasiliteer. Die party eis die onmiddellike afdanking van minister Nkabane.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





